Synapsida (Grieks vir "gesmelte boog"), ook die sinapsides genoem, is ’n groep diere wat soogdiere insluit, asook elke dier wat nader aan soogdiere verwant is as aan ander lewende amniote.[2]
Sinapsides kan maklik van ander amniote uitgeken word omdat hulle ’n temporale fenestra, ’n opening agter elke oog, het wat ’n benerige boog vorm; dit is waar hul naam vandaan kom.[3] Primitiewe sinapsides word gewoonlik Pelycosauria genoem en meer gevorderde soogdieragtiges Therapsida. Die klassieke beskrywing van eersgenoemdes was "soogdieragtige reptiele".[4][5]
Sinapsides het ontwikkel uit basale amniote en is een van die twee groot groepe latere amniote; die ander een is die Sauropsida, ’n groep wat moderne reptiele en voëls insluit. Die onderskeidende temporale fenestra het sowat 312 miljoen jaar gelede in die Synapsida-voorouers ontstaan, tydens die laat Karboon-periode.
In die Perm, 299 miljoen tot 251 miljoen jaar gelede, was die sinapsides die grootste gewerweldes op land. Nes die geval was met ander destydse groepe diere, is hul getalle en verskeidenheid aansienlik geknou deur die Perm-Trias-uitwissing. Teen die tyd van die uitwissing aan die einde van die Perm was al die ouer vorme van Synapsida (die Pelycosauria) steeds uitgesterf en was hulle reeds vervang met die meer gevorderde Therapsida.
In die Trias het die Archosauria die grootste en volopste landgewerweldes geword. Ná die Kryt-Paleogeen-uitwissing het die Synapsida (in die vorm van soogdiere) weer die grootste landdiere geword.
Synapsida (Grieks vir "gesmelte boog"), ook die sinapsides genoem, is ’n groep diere wat soogdiere insluit, asook elke dier wat nader aan soogdiere verwant is as aan ander lewende amniote.